Page 21 - Stoeptalk 2023 Issue 1
P. 21
THOUGHTS/GEDAGTES
Die Groot Vraag –
Wat Nou?
Dinge gebeur in ons lewe – onbeplande dinge – dan vra ons wat nou?
Jou voertuig word afgeskryf – wat nou?
Jy verloor jou beste vriendin – daardie een wat jy enige tyd van die dag of nag kon kon-
tak as jy nodig het om te gesels en wat jou beter ken as wat jy jouself ken – wat nou?
Jy verloor ‘n Moeder wat vriendin geword het – wat nou?
Jy verloor nog ‘n beste vriend – julle ken mekaar vandat julle 12 jaar oud is – wat nou?
Jy verloor nog mense baie naby aan jou hart – wat nou?
Ander sake loop nie mooi nie en tussen al die verliese en hartseer is daar nog dinge
waarmee jy moet handel en wat elke dag hanteer moet word – wat nou?
Heel eerste moet ons net WEET en ONTHOU ons is nie alleen nie – elke mens op aarde
ly verliese en gaan deur baie hartseer tye. Ons is sterker as wat ons dink.
Gelukkig is daar nog ‘n voertuig om mee oor die weg te kom.
Die gemis aan hartsmense gaan nooit weg nie maar die seer raak beter – of ons leer
om daarmee saam te leef. Later dink mens nie meer aan hulle is nie meer hier nie – jy
onthou al die dinge wat julle gedeel het, al die pret wat julle gehad het, al die kere wat
jy gelag het tot jou asem weg is. Jy onthou nie meer net dat hulle weg is nie – jy onthou
nou dat hulle gelewe het.
Wat nou? Hierdie vraag word deur baie mense gevra. Wat nou? Nou gaan jy aan met
jou lewe want jy het nog een. Nou sien jy weer die mooi raak. Nou kan jy weer bid en
sê dankie Here. Jy sien die mooi sonsopkoms en sonsondergang en is verstom oor die
Here se verfkwas en die kleure wat so mooi bymekaar pas. Jy wonder hoeveel ander
mense dit raaksien. Jy sien die wolk formasies en waardeer elke nuwe vorm daarvan –
elke kleur nuanse. Jy luister na mooi musiek en vind jy sing weer saam. Jy kom agter jy
glimlag makliker en meer … en skielik een dag – skaterlag jy vir iets.
Wat nou? Nou onthou jy al jou hartsmense met ‘n dankbare hart – want jy kon ‘n rukkie
die lewenspad saam met hulle loop. Nou trek jy jou skouers terug, lig jou kop op en kyk
die wêreld in die oë en gaan aan met jou lewe.
Alles is vir jou kosbaarder en jy waardeer mense meer. Jy spandeer meer kwaliteit tyd
saam met hartsmense en jy versamel herinneringe – want jy weet – eendag gaan dit al
wees wat oorbly. Maar jy geniet elke oomblik van nou – van hier wees – van nog ‘n kans
en nog ‘n dag – JY LEWE!
-Anoniem
19
Boardwalk Meander Estate Issue 1 · 2023